Op Woensdag 14 Februarie het personeel van Hugenote Kollege, die Sinode van die Wes-Kaapland, Kunst Argitekte en die bestuurspan verantwoordelik vir die bouwerk, by die Murray Jubileum Zaal op die Samuelkampus vir die amptelike oorhandiging van die perseel bymekaargekom.
Hierdie praggeleentheid is met groot opgewondenheid deur dr. Willie van der Merwe, rektor van Hugenote Kollege, geopen met die deel van ‘n klein bietjie geskiedenis van Andrew Murray, waarna alle betrokke partye die nodige kontrakte geteken het. Na oorhandiging van die sleutels is planne bekyk en onmiddellik aan die werk gespring met die eerste stappe om die perseel voor te berei vir die eerste werk.
“Dit is ons gebed by Hugenote Kollege, en ander in die kerk, dat ons hier ‘n nuwe beweging begin wat in die volgende honderde jare ‘n baie groot verskil in die samelewing sal maak,” sê dr. Willie van der Merwe.
Die ontwikkeling van ‘n Missionale Spiritualiteit is sedert die 2015 sinodesitting een van die fokusareas van die Sinode van Wes-Kaapland en die kerk streef na ‘n voortgaande verbintenis om ‘n missionale kerk te word.
“In die nadenke oor die ontwikkeling van die Missionale Spiritualiteit in en vir die NG Kerk kan die lewe en werk van Andrew Murray vir ons dien as historiese vertrekpunt en inspirasie vir die ontwikkelinge wat op Samuelkampus sal plaasvind.” sê dr Frederick Marais.
Die amptelike bouwerk begin aan die einde van Februarie en alle voorbereiding is in plek vir die besparing van water, asook die omsien na die tuine en bome op die perseel.