Die meeste van sy boeke en die talle referate is hier geskryf. Die gebou is daarna verhuur. In 1969 is die gebou erg beskadig deur die aardbewing. Prof Johan van der Merwe, die destydse rektor van Hugenote Kollege, het die gebou laat herstel en sedertdien is dit as rektorswoning vir Hugenote Kollege gebruik.
Huis Samuel en Clairvaux verteenwoordig in ‘n besondere sin die Spiritualiteit van dr Andrew Murray wat deur die jare sterk neerslag gevind het in die NG Kerk. Hierdie Spiritualiteit kan inderdaad beskryf word as ‘n “nugtere mistiek” (De Villiers 2015) aangesien Murray deurgaans geleer het dat vanuit die mens se verhouding met God, wat hy beskryf as “kindskap van God” (Brummer 2013), die mens geroep en gestuur word om in die koninkryk van God te gaan dien. Vandaar ook die leuse van Hugenote Kollege: Gebed, Roeping, Diens. Dit is opvallend hoe hierdie vorm van mistiek die afgelope tyd deur Suid-Afrikaanse teoloë herbesin word (Brummer 2013, De Villiers 2015, Hansen 2015).
Benewens die nadenke en studie oor Spiritualiteit deur Andrew Murray in sy studeerkamer en op die stoep van Clairvaux, getuig die Sending Instituut (Samuel Kampus) en Hugenote Kollege (Cummings Kampus) op ‘n unieke manier hoe die gelowige en ‘n gemeente se noue omgang met God Drie-enig neerslag gevind het, en steeds neerslag vind, in diens en deur dienslewering meewerkend in die koms van God se koninkryk in Suid-Afrika, Afrika en die hele wêreld. Ons vind reeds by hom die saad van missionale denke wat veel later in die kerk neerslag sou vind in ‘n missionale roepingsverstaan wat holisties oor ons getuienis dink en die opheffing van armoede, die opheffing van vroue en die menswaardigheid van alle mense sou insluit.