Skip to main content
NUUS

‘n Getuienis deur Yoshikazu Nonoyama (野々山芳和) (45 jr.)

By Februarie 22, 2019April 20th, 2019No Comments

BEMOEDIG DEUR DS. ANDREW MURRAY

(Vertaal deur Stéphan Van der Watt (Kobe Gereformeerde Teologiese Kweekskool)

Loof die naam van die Here. My naam is Yoshikazu Nonoyama, teologiese student van die Kobe Gereformeerde Teologiese Kweekskool, in Japan. Ek het gehoor van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit se opening in Wellington, Suid-Afrika. Ek bid dat dit geseënd sal wees.

Ek het ds. Andrew Murray leer ken deur sy boeke wat in Japannees vertaal is. Die eerste boek van hom wat ek gelees het, is getiteld: The Ministry of Intercession. Sy boeke is blykbaar grootliks in Japannees vertaal tussen 1970-1980. Maar in ‘n land soos Japan met ‘n Christen-minderheid (net 1%) word sulke boeke nie in grootmaat gepubliseer nie, en gaan dit gevolglik gou uit druk uit. Ds. Murray se boeke kan meestal net tweedehands bekom word, maar as mens in gemeentes se boekrakke gaan rondloer is daar dikwels die kans dat jy ‘n paar daarvan in die hande sal kry. Veral in die 70-80er jare het kerke in Japan beter bekend geraak met hom en sy boeke.  

Maar, sedert 2016 is verskeie van Murray se boeke weer gepubliseer en herverkoop. En dis toé dat ek The Ministry of Intercession, in die hande gekry het. Deur dié boek het ek opnuut geleer van die krag van gebed, en ek onthou ook dat ek diep geraak is daardeur én aangespoor is om meer te bid. Eintlik was ek heeltemal oorweldig die boek se inhoud, en het ek sommer op die koop toe vir ‘n jong Christen vriend een present gegee. Verder het ‘n begeerte in my ontstaan om meer boeke van ds. Murray te lees, en daarom het ek inligting versamel en só uitgekom by ‘n webblad waar iemand sy boek Absolute Surrender se proef-vertaling amptelik gedeel het. Ongelukkig is die webblad nie meer beskikbaar nie, maar terwyl dit te vinde was kon ek die eerste paar hoofstukke van Absolute Surrender oor en oor lees. Op daardie stadium kon ek die oortuiging van my hart waarmee ek toe al vir ‘n paar jaar rondloop, naamlik om ‘n volledige oorgawe (aan God) te maak, net nie tot ‘n punt bring nie. Ek het allerhande redes voorgehou, en die kwessie bly uitskuif en uitstel.

Maar, terwyl ek die boek gelees het, het my gedagtes rondom wat dit beteken om ‘n besluit tot oorgawe te maak – naamlik dat dié besluit nie deur eie krag kan kom nie – verander en nuut geword. Ek het besef ek wou dit uit eie krag doen. Uiteindelik was die bepalende hupstoot wat my gebring het tot oorgawe en volle toewyding aan God, inderdaad ds. Murray se boek Absolute Surrender. Ek het grootgeword in ‘n evangeliese kerk. Juis daarom vind ek dit ‘n misterie dat ek, wat geen Gereformeerde agtergrond het nie, nou by Kobe Gereformeerde Teologiese Kweekskool studeer. Dit sal my bly maak as julle kennis neem van die getuienis: dat hier in die verre Japan, en selfs vele geslagte ná ds. Murray, daar ‘n teologie student is wat deur middel van sy invloed só bepalend aangespoor is. Ek is dankbaar teenoor die Here wat so ‘n geloofsreus soos hy opgerig het.

 

God does not ask you to give perfect surrender in your strength, or by the power of your will; God is willing to work it in you.”  

– uit Absolute Surrender