Skip to main content
'Kyk (weer) Ek maak alles nuut'RETRAITES

04 | “KYK (WÉÉR), EK MAAK ALLES NUUT” (4 JUNIE 2020)

By Junie 4, 2020Januarie 18th, 2021No Comments

NA PINKSTER RETRAITE

“Kýk, Ek maak alles nuut!” (Openb 1:1-20; 7:9-17; 21:1-8)

Weer eens welkom by die Andrew Murray-Sentrum vir Spiritualiteit! Ek groet jou met die gebed dat jy vandag God se nabyheid op ‘n besondere manier sal ervaar, net daar waar jy is. Ons tema vir die ná-Pinkster-retraite is: “Kyk (wéér), Ek maak alles nuut” (Openb 21:5), wat ook ons fokus vir vandag se nabetragting is. Kry vir jou ‘n rustige plek, sit gemaklik, steek ‘n kers aan, en haal lekker diep asem terwyl jy jou instem. // Ek wil jou nooi om Openbaring 1:1-9 (as sleutel tot die boek) ‘n paar keer deur te lees, en jouself dan eerlik te vra:  Dink jy werklik dat dinge nuut kan word? Dat mense kan verander? En indien wel, hóé en wáár is dit veronder­stel om te gebeur?

Die 7 gemeentes in Klein-Asië (vandag Turkye) waarna in Openb 2-3 verwys word (vanaf Efese, wat die naaste aan die Patmos-eiland was, kloksgewys tot by Laodisea), bevind hulle in een of ander geloofskrisis. Groot dele van die eerste eeuse Mediterreense wêreld was onder beheer van die Romeinse Ryk. Die boek Openbaring ontstaan waarskynlik rondom 95 nC tydens die bewind van keiser Domitianus (81-96), wat o.a. swaar belastings gehef het en as held/god vereer is. Die vroeë Christene sou nog onthou hoe die Romeine Jesus gekruisig het, hoe keiser Nero die Christene van die brand in Rome in 64 nC beskuldig het, en hoe die Romeine Jerusalem en die tempel in 70 nC vernietig het. Hulle sou trouens gedurig aan die oorweldigende werklikheid van dié imperiale mag herinner word (dmv feeste, spele en teater ter ere van die gode, triomfboë, plekname, munte, en eedswering in howe). Vir Romeinse maghebbers was dit van primêre belang om beheer oor mense se denke te hê (o.a. deur hulle te dreig). Vir die Jesus-volgelinge sou dit ‘n daaglikse stryd tussen perspektiewe beteken – tussen lojaliteit aan Jesus as Here en die keiser as heerser van die Ryk.

Maar die prentjie was waarskynlik nóg bleker. Bedreiging het nie net van buite gekom nie, maar ook van binne. Vir sommige Joodse Christene was dit moeilik om te glo dat Jesus Gód is, terwyl Christene uit Griekse en Romeinse (veral Gnostiese) agtergronde weer moeite gehad het om te glo dat Jesus méns geword het. Dit het hulle erg verdeel. Vir die Johannese gemeenskap wat sterk op liefde, eenheid en vriendskap ingestel was (vgl Joh 13-17), moes dít ‘n reuse identiteitskrisis meebring, soveel so dat hulle sodanige vals profete in hul midde as antichriste beskou het (vgl 1 Joh 2:18-19; 4:1-21).

Onder omstandighede waar Chistene kwaai onreg moes verduur agv hul getuienis oor Jesus, sien die skrywer Johannes ‘n visioen wat deur Jesus aan hom geopenbaar word (1:1-20) – die een wat as geslagte Lam saam met God en die Gees vanaf die troon van die heelal oor alles en almal regeer (vgl 7:9-17; 21:1-8), óók oor die magtige Romeinse Ryk met “Babilon” as setel (Openb 18). Die inhoud van dié droom word as troos én waarskuwing aan die gemeentes oorgedra (so ook 21:5!) en wil hulle help om ánders te kyk, om perspektief te behou deur Jesus as gekruisigde, opgestane, verheerlikte Here voor oë te hou, al kry hulle hoe swaar. Sodat hulle prakties sou ervaar:  Sien is glo!

(Daar is ‘n moontlikheid dat die Johannese literatuur in die NT van “agteraf” gelees kan word, met die Openbaringboek eerste, en met ‘n soortgelyke konteks wat vir die Joh-evangelie en -briewe veronderstel word).

Openbaring kan in werklikheid as a bridge over troubled waters beskryf word, en daag ook óns as Christen-gelowiges uit om onder die sosio-ekonomiese omstandighede van die Korona-virus vir Jesus as gesagvolle heerser van die kosmos ráák te sien, en ons lewens híérvolgens in te rig.

Sal ons bid?  Here, maak my oë en ore oop sodat ek Ú as geslagte Lam en Here oor alle magte wat verkneg en bedreig kan sien en ráákhoor as U sê: “Kyk, Ek maak alles nuut.”  AMEN