NA PINKSTER RETRAITE
Liewe vriend(in), vandag nooi ek jou om op ‘n “gebedswandeling” te gaan – net daar waar jy is, in jou kamer of buite in die natuur. Maar neem eers (genoeg) tyd om rustig te word. Haal diep asem totdat jou liggaam ontspanne is, en gereed om fyn te luister. // Dink nou eerlik na oor die volgende vraag: Wat sien jy te midde van wat op die oomblik rondom ons gebeur?
Die hemelvaart van Jesus het van sy volgelinge groot aanpassings gevra. Om sonder sy fisiese teenwoordigheid voort te gaan, was sekerlik geen grap nie. Tog het Hy hulle geleidelik hierop voorberei deur te beloof dat sy Gees by hulle sal bly om hulle aan alles te herinner wat Hy gedoen en gesê het (Joh 14:16-17, 26; 15:26; 16:7-14). Trouens, Hy het hulle verseker dat dit tot hulle voordeel is dat Hy weggaan, juis sodat die Gees, die Parakleet, die Trooster, kon kom om hulle in die lewenskuns te begelei om in Jesus te bly (Joh 15:4-8). Sodoende was hulle bedoel om die oop hemel, ja God sélf, in hulle daaglikse lewe te blý raaksien (Joh 1:51; 16:7).
Hoe ontvang ons as gelowiges hierdie verhaal in ‘n tyd van Covid-19, ‘n globale pandemie wat dreig om duisende lewens uit te wis, maar ironies ook die aarde laat asemhaal? Een van die mees aangrypende voorbeelde wat, ek dink, ons hiermee kan help, is die verhaal van Stefanus (Hand 6-7). Stefanus (wie se naam “kroon” of “prys” beteken) is as medewerker gekies om met die daaglikse versorging van weduwees in die eerste gemeente in Jerusalem te help. Van hom word gesê dat hy vol geloof en van die Heilige Gees was” (Hand 6:5), “vol genade en krag, wat groot wonders en tekens onder die volk verrig het” (6:8), en iemand wat met wysheid gespreek het (6:10). Verskeie mense het met hom probeer redeneer (6:9-10), maar hulle was nie opgewasse teen die wysheid van die Gees waarmee hy gepraat het nie. Nadat hy valslik beskuldig is dat hy lasterlik teen hulle tradisie en die tempel gepraat het, het hulle hom voor die Sanhedrin (Joodse Raad) gebring. Toe die Raadslede na hom kyk, sien hulle dat sy gesig soos dié van ‘n engel lyk (6:15). Maar toe hy sy getuienis lewer en sy standpunt stel (7:7-53), het hulle briesend geword, op hulle tande gekners en op hom afgestorm om hom met klippe dood te gooi (7:54-60). In skreiende kontras lees ons dat Stefanus, vol van die Heilige Gees, stip na die hemel gekyk en die heerlikheid van God gesien het, terwyl hy sê: Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan (7:55-56 – vgl Joh 1:51). LEES gerus die verhaal in Hand 7:54-60 ‘n paar keer hardop deur, met gevoel.
Is dit nie die héél belangrikste wat van my en jou gesê kan word, onder watter omstandighede ookal, dat ons aan die Here van alle heersers behoort nie? En dat ons Jesus in koninklike gesag en heerlikheid aan die regterhand van God mag sien nie? Besig om saam met die Gees vir ons by God in te tree, sodat ons – selfs al reën die klippe op ons of bedreig ‘n virus ons bestaan – met innerlike kalmte in God gewortel en geborge mag bly? En dat geen mag of gesag, van watter aard ookal, ons hiervan kan beroof nie?
Gebed: Here, maak my geloofsoë oop sodat ek Ú kan rááksien. Sodat ek myself kan sien soos U my sien. Én my naastes soos U hulle sien. En sodat ons ons omstandighede kan sien soos U dit sien. AMEN