NA PINKSTER RETRAITE
“Jy sal nog groter dinge sien … Julle sal die hemel oop sien” (Joh 1:50-51)
Goeiedag! Soos gister, maak seker dat jy gemaklik sit of op ‘n stil pad stap. Hou aan om lekker diep asem te haal – totdat jy voel hoe jou maagspiere ontspan, en jy gereed is om God se woorde te ontvang.
Ek het een vraag aan jou: Het jy dalk iewers die afgelope week/weke die hemel óóp gesien? Indien wel, maak tyd om daardie oomblik(ke) te beskryf. Teken dit gerus in ‘n joernaal aan, óf as jy dit reeds gedoen het, gaan weer terug en vertoef so lank as moontlik daarby.
Ons konsentreer vandag vir ‘n wyle op Jesus se woorde aan Natanael, “Jy sal nóg groter dinge sien … julle sal die hemel oop sien” (Joh 1:50-51). LEES gerus Joh 1:43-2:1. Dié verhaal vorm deel van die openingstonele van die Johannes-evangelie. Dit volg net ná die inleiding of proloog waarin die logos aan die gehoor voorgestel is – die ewige, kosmiese Woord wat van die begin af by God is, en self God is (1:1). Hierdie Woord het mens geword (met brose, sterflike liggame geïdentifiseer), en God aan hulle bekend gemaak (v18). Die werkwoord “woon” in v14 beteken letterlik “Hy het onder ons kom tent opslaan.” Dit sou die gehoor waarskynlik aan Israel se tabernakel herinner, met die implikasie dat die heerlikheid van JHWH se teenwoordigheid wat eens in die tabernakel (en later in die tempel) gesetel het, nou in die persoon van Jesus “gesien” kan word (v14).
Die sosio-politieke konteks waarin die Johannese gemeenskap hierdie aansprake maak is dié van die Romeinse Ryk, met ‘n erg ongelyke verdeling tussen ryk en arm, tussen dié met ‘n stem en dié daarsonder, en met die keiser in Rome as “vader van die ryk.” In so ‘n konteks sien, herken, onderskei Johannes ‘n alternatiewe werklikheid – ‘n huishouding van onvoorwaardelike liefde en gasvryheid, met God as “ouer” en versorger. In die woorde en dade van Jesus gaan daar vir Johannes ‘n nuwe wêreld oop, en hy noem dit hemel…
Ons lees van Natanael slegs in die eerste en laaste hoofstukke van die Joh-evangelie (21:2). Dit gee ‘n idee van sy belangrike rol in die verhaal – as iemand wat uitgedaag word om óóp te wees om deur God se teenwoordigheid verras te word, selfs op onverwagte tye en plekke. Eers sien Jesus hom onder ‘n vyeboom (1:48), gesels met hom langs die pad (1:47-51), en doen sy eerste wonderwerk in Natanael se tuisdorp (2:1-11; 21:2). In die slothoofstuk is Natanael ooggetuie van ‘n wondervisvangs (21:3-6) én die opgestane Here se versoening met sy dissipels by die See van Tiberias (21:7-19). Alles voorbeelde van hoe die hemel vir hulle te midde van die pyn van teleurstelling en verlies oopgegaan het.
My liewe vriend(in), kan jy jou ná Pinkster (steeds) indink dat God se hemel op hierdie stukkende aarde óóp is, dat God se helende teenwoordigheid in pessimistiese tye soos hierdie blywend ervaar kan word – te midde van lewensgevaar, ekonomiese onsekerheid, sosiale ballingskap, en vir baie, wanhoop? En belangrik: Glo jy steeds dat jý as profeet/profetes geroep word om God se kosmiese Woord in hierdie tyd te beliggaam?
Kom ons bid: Dankie, Here Jesus, dat U gekom het om vir ons te wys wat hemel op aarde is, en dat U mý roep om deur u Gees vir mense nuwe wêrelde – Ú wêreld – te help oopmaak. AMEN