NA-PINKSTER-RETRAITE
Liewe vriend/in, ek groet jou vanaf die Andrew Murray-Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington, met die gebed dat die Gees van God sal aanhou om jou in die ná-Pinkstertyd te verras en te verkwik.
Hoe graag sou die Bedryfspan jou nie by die Sentrum wou ontvang om jou te vertroetel en tot verhaal te help kom nie!! Ons het ‘n vae idee van wat die afgelope grendelweke van jou geverg het, die verliese wat jy daagliks aanskou en hanteer, en wat dit alles van jou binneste vra…
Al kan ons nie bymekaar kom nie, nooi ek jou om net daar waar jy is in die volgende tien weeksdae elke dag ten minste twee ure opsy te sit om net te wéés, om góéd te wees vir jouself. Dalk wil jy in die ritme kom om in daardie tyd ‘n ent te gaan stap, iewers onder ‘n boom te sit, of ‘n kers aan te steek en sommer net in jou gunsteling hoekie te vertoef… Dalk is jou basiese behoefte om net weer liggaam en gees bymekaar te bring… Wil jy net alleen gelos wees en voor jou uitstaar… Óf het jy behoefte om saam met iemand oor die afgelope Pinksterweek se pieke na te dink, of oor die dor vlaktes en donker dieptes wat die pandemie vir baie meebring. Mag dit in elk geval ‘n ruimte word waar God jou ontmoet, en jy God nuut rááksien en ráákhoor.
Ons tema vir dié retraite kom van die Een op die troon van die heelal, “Kyk (wéér), Ek maak alles nuut” (Openb 21:5). Ons LEES Openb 21:3-5 (2014 Dir Vert). Of die Pinksterreeks in julle gemeente oor die Openbaringboek gegaan het, of oor enige ander teks of tema, wil ek jou uiteindelik nooi om dié insigte in gesprek te bring met die Johannese literatuur van die Nuwe Testament.
Maar vandag konsentreer ons net eers op asemhaling – die heel basiese element waarvan ons afhanklik is om te kan leef. Gaan stap teen ‘n rustige spoed, of sit gemaklik – met albei jou voete op die grond en jou hande in ‘n ontvangende posisie op jou knieë, oop na bo. Haal diep asem, oor en oor, en luister fyn. Erken geluide om jou, maar probeer vir nou net op jou asemhaling konsentreer. Draai jou ore en oë na binne en volg die gang van jou asem tot in die verste hoekies van jou liggaam. Dink na oor hoe wonderbaar jy geskep is, oor die geskenk van lewe in vele gestaltes, en die voorreg om dit alles met jou sintuie te kan ervaar. Hou hiermee aan totdat jy voel hoe jou liggaam ontspan en die spiere in jou gesig en handpalms sagter word…
Sal ons bid?
Troue Skeppergod en Versorger van lewe, dankie dat U ons deur dié Pinkstertyd met vele uitdagings en geleenthede gedra en gevoed het. En dat ons U kan vertrou om ons kragte deur u Gees te herstel en ons met nuwe energie te vul, sodat ons Ú en alles en almal rondom ons nuut sal sien en hoor en voel. In die Naam van Jesus, die lewende Here, AMEN.