Skip to main content
NUUS

HEMELVAART – 21 Mei 2020

By Mei 20, 2020No Comments


Hoe vier gelowiges hemelvaart in grendeltyd?

Iemand wat my hiermee help, is Stefanus, ‘n sorgwerker in die eerste gemeente in Jerusalem (Hand 6-7).
Van hom word gesê dat hy “vol geloof en van die Heilige Gees” was (6:5).
Sommige het met hom geredeneer, maar was nie opgewasse teen die wysheid van die Gees in hom nie.
Nadat hy vals beskuldig is dat hy lasterlik teen hulle tradisie praat,
het hulle hom voor die Joodse Raad gebring. Vir húlle het sy gesig soos dié van ‘n engel gelyk (6:15).
Maar toe hy práát, het hulle op hul tande gekners en op hom afgestorm om hom met klippe dood te gooi (7:54-60).
In skreiende kontras lees ons dat Stefanus stip na die hemel gekyk en die heerlikheid van God gesien het, terwyl hy sê:

Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die Mens aan die regterhand van God staan. En so het hy gesterf.

Is dit nie die héél belangrikste wat van jou en my – in lewe en dood – gesê kan word,
dat ons aan die Here van alle heersers behoort nie? En dat géén mag of gesag,
van watter aard ookal, ons hiervan kan beroof nie? En dat elke dag vir ons só hemelvaart mag word nie?

Daarom: Wat sien jy, wat sien ék, te midde van wat op die oomblik rondom ons gebeur?

Gebed: Here, maak my geloofsoë oop sodat ek Ú kan rááksien. Sodat ek myself kan sien soos U my sien. Én my naastes.
En sodat ons ons omstandighede kan sien soos U dit sien.

 Amen