Skip to main content
NUUS

Huis Samuel se horlosie

By Februarie 8, 2019No Comments

Die herberg, Samuel by ons sentrum is byna 150 jaar oud. Volgens foto’s wat ons het was daar van die begin af  ʼn horlosie in die toring bokant die ingang. Vir dekades al werk die horlosie nie meer nie. Frans de Jonge het opgeklim en die foto’s vir ons aangestuur.

Die horlosie kort ʼn diens en kleiner reparasiewerk en ons is hard aan die werk om dit te probeer herstel.  Daar is ʼn kabel wat deur die dak ʼn verbinding maak met die klok aan die bo-punt van die toring.  Vanweë ʼn lekkasie het die kabel vasgeroes en het ʼn klein gietyster komponent in die horlosie gebreek en alles tot stilstand gebring.  Daar het ook oor die jare van die pleisterwerk bros geraak en in die ratwerk beland.

Ons moet dus kleiner herstelwerk doen, die kabel olie, die ratte skoonmaak en olie, die lekplek regmaak en dan kan die horlosie weer opgewen word en weer sy werk doen om al om die uur die klok te lui om ons te herinner aan hoe laat dit is.  Dit is liefdeswerk, sal tyd neem, vra vir sagte hande met ʼn kwas wat al die stof sorgvuldig wegvee. Elke rat moet ge-olie word. Dit sal tyd neem, geduld vra, maar dink net hoe mooi sal dit wees as die klok, presies op tyd vir die eerste keer in dekades weer lui!

Die proses herinner aan wat ons visie vir die sentrum is. Dikwels is daar in ons lewe ʼn meganisme wat vasroes, ratte wat nie versorg word nie en tot stilstand knars. Dan vra dit tyd om alles oop te maak, skoon te maak, aanmekaar te sit, te olie, en dan weer op te wen om weer ritme te vind wat dalk vir dekades weggeraak het in ons lewens.