Skip to main content
'Kyk (weer) Ek maak alles nuut'RETRAITES

10 | “KYK (WÉÉR), EK MAAK ALLES NUUT” (12 JUNIE 2020)

By Junie 12, 2020Januarie 18th, 2021No Comments

“Ontvang die Heilige Gees!” (Joh 20:19-23)

Welkom by die laaste byeenkoms van ons tiendae-ná-Pinkster-retraite hier vanuit die AMSS op Wellington!

Vandag nooi ek jou om jou verbeelding te gebruik en na jou gunsteling plek op aar­de te gaan vir hierdie afsluitingsgeleentheid – dalk by die see of in die Karoo, of op ‘n hoë berg. Maak dit vir jou ‘n spesiale moment en klee dit in (met ‘n kers of ikoon) soos dit vir jou die bes­te werk. Onthou om diep asem te haal tot jou gesig- en maagspiere sag en ontspanne is.

Steeds in die gees (Gees!) van Pinksterfees en Drie-eenheidsondag, fokus ons vandag op Jesus se eerste ontmoeting met sy dissipels ná sy opstanding uit die graf, net ná sy verskyning aan Maria Magdalena, volgens die Joh-evangelie. Ons LEES Johannes 20:19-23.

Die konteks waarin hierdie verhaal afspeel, is een van vrees en “sosiale afstand.” Die deure is dig gesluit en dit is laat in die aand. Ons kan ons enigsins voorstel hoe die atmosfeer tussen hierdie ontwrigte, ontnugterde groep mans moes wees.

Skielik verskyn die lewende Jesus aan hulle – geslote deure ten spyt! Hy gaan staan tussen hulle en troos hulle met ‘n seëngroet: “Vrede vir julle!” En wanneer Hy sy hande en sy sy ter be­ves­tiging vir hulle wys, lees ons dat hulle vrees en angs in vreugde verander (v20) – byna soos die Emmausgangers van Lukas 24. Dan, as Jesus hulle ‘n tweede keer seën met “Vrede vir julle!” voeg Hy ‘n opdrag by: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Hy ver­seker hulle on­mid­del­lik van die toerusting en gesag wat hulle in staat sou stel om dit te kan uit­voer as Hy op hul­le blaas en sê: “Ontvang die Heilige Gees!” Dan volg die eerste ruimte as’t ware waarin hierdie gesag gevoel moes word in v23, naamlik dat hulle mense van hulle sondeskuld moes vryspreek.

Kom ons dink vir ‘n wyle na oor die vergelykende woordjie “soos” in v21. Volgens Johannes, is Jesus besonder lief vir hierdie soort uitdrukking: “Bly in My, soos Ek in julle” (15:4); “Net soos die Vader my liefgehad het, het ek julle ook liefgehad” (15:9); “Julle moet mekaar liefhê net soos ek julle liefgehad het” (15:12); “Ek het U heerlikheid aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos ons een is” (17:22).

Vir die Johannese gemeenskap het Jesus se menswording ‘n nuwe begin ingelei, ‘n hernu­wing van God se verbond met Israel. Vir húlle was sy ganse bediening die beliggaming van God se liefde en sorg vir die wêreld – of Hy hulle tradisies herinterpreteer het of na siekes omgesien het, sy dissipels se voete gewas het of aan ‘n skandekruis gesterf het. Sy reaksie op die konteks van sy tyd was om mense in wanhoop ráák te sien, deernis met hulle te hê, hulle selfs aan te raak – dikwels teen die sosio-kulturele grein van die samelewing. Dit alles dien as ‘n voorbeeld vir sy volgelinge en moedig hulle aan om soortgelyk te doen. In Joh 13:34 sê Hy vir hulle: “Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dít is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is.” Anders as die ander drie evangelies se weergawe, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” herinterpreteer Johannes die liefdesgebod van Levitikus 19:18 vanuit die radikale perspektief van Jesus se voorbeeld. Om soos Jesus deur God geroep en gestuur te wees, beteken om sy gesindheid en gedrag aan te leer soos kinders wat spontaan doen wat hulle ouers doen, en dan meer en meer soos die ouers word…

Sal ons bid?  Drie-enige God, vul my met U Gees sodat ek – soos Jesus – ‘n besielende voorbeeld en ‘n bron van egte troos vir ander sal wees, juis omdat ek weet in wie ek geanker is.  AMEN