Hemel op aarde vir ‘n blinde bedelaar? (Joh 9:1-41)
Welkom by die tweede week van die Andrew Murray-Sentrum vir Spiritualiteit se ná-Pinkster-retraite! Mag die vars bries van God se Gees vandag deur jou binneste waai en jou met nuwe moed en vreugde vul. Kom ons haal ‘n paar keer soos kinders asem – in deur die neus en uit deur die mond, totdat jou liggaam ontspanne is en gereed om op God se teenwoordigheid te fokus.
Ons reis vandag verder deur die landskap van die Joh-evangelie. Dit val ‘n mens op dat Jesus nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om iemand ráák te sien en by hulle te vertoef nie, al het Hy geweet hoe onbetroubaar mense is (2:24-25). Ons staan hierdie keer stil by sy ontmoeting met ‘n blindgebore man wat as ‘n bedelaar, waarskynlik in die omgewing van Jerusalem, bekend was (Joh 9). Blinde bedelaars was as die laagste op die sosiale leer beskou. Hulle het waarskynlik sleg geruik, is deur godsdienstige mense as “sondaars” beskou, en was ‘n irritasie vir almal wat verbygaan. Terwyl die samelewing se stereotipes oor fisies en psigies uitgedaagde mense hulle verblind het om hierdie man enigsins ráák te sien, doen Jesus die buitengewoon verrassende ding om hom in ere te herstel, en dit nogal op ‘n Sabbat! Kom ons kyk weer…
Ons LEES Joh 9:1-7. Dan volg daar verskillende tonele waarin die man se bure (vv8-12), die Fariseërs (vv13-17), sy ouers (vv18-23), die Jode (vv39-47) en hyself kommentaar lewer op sy herstel. Niemand glo sy storie nie en uiteindelik word hy uit die sinagoge geban (v34). Jesus weer, word daarvan beskuldig dat Hy nie van God kom nie, omdat Hy die Sabbat ontheilig (vv14-16).
Dié storie sou na alle waarskynlikheid as ‘n reuse skok vir ‘n eerste gehoor gekom het. Vir die Jode was reinheid prioriteit nommer een in alles – dink maar aan hulle heilige plekke (soos die tempel), heilige dae (soos die Sabbat), en heilige mense (soos die hoëpriester). Dít kan ons vir ons goed voorstel: in ‘n eerste-eeuse Mediterreense samelewing waar eer en skande kernwaardes was, sou ‘n blindgebore man nie tel nie – vir seker nie iemand op wie jy tyd en middele sou mors nie. (Klink dit dalk bekend?)
Al wat Jesus se dissipels van dié man interesseer, is die vraag wie vir sy siekte geblameer moet word – hy self of sy ouers? Geen deernis nie, net die kru vraag na die oorsaak van sy blindheid. In húlle denkraamwerk moes iemand se sonde vir sulke ellende verantwoordelik gehou word. (Dit klink byna soos van die vrae wat ons in die Korona-tyd hoor! Wie het gesondig, wie moet geblameer word, dat ons nou met ‘n globale virus-pandemie sit?)
Jesus keer egter die dissipels se vraag óm deur te kenne te gee dat dít nie is wat hier tel nie, maar dat die man blind gebore is “sodat die dade van God in hom geopenbaar kan word” (v3). Dan word die res van die drama van sy genesing en die verskillende gesprekke as ‘n fyn, ironiese woordspel beskryf tussen wat dit beteken om te sien en om blind te wees, fisies sowel as geestelik… Kom ons LEES Johannes 9:35-41.
Direk ná Joh 9 volg hoofstuk 10, wat o.a. praat oor diewe wat slag en uitroei – wat lewe in oorvloed steel (10:8-10). My vraag aan jou vandag is: Het ons die waagmoed om die vooroordele wat ons verblind en daarvan weerhou om mense ráák te sien, by die naam te noem as diewe wat lewe in oorvloed van ons steel (veral in die intieme ruimtes van ons huise, maar ook op ons markpleine)?
Kom ons bid: O Heilige Gees, Wind van God, waai oor die leegheid van my lewe en bring my ingewande in beroering oor die onsêbare sugte van hulle wat my pad kruis. AMEN