Skip to main content
'Kyk (weer) Ek maak alles nuut'RETRAITES

07 | “KYK (WÉÉR), EK MAAK ALLES NUUT” (9 JUNIE 2020)

By Junie 9, 2020Januarie 18th, 2021No Comments

Hemel op aarde vir ‘n Samaritaanse vrou? (Joh 4:1-42)

Dagsê!  Mag die Gees van Pinkster jou vandag herinner aan hoe diep jou Maker oor jou voel, en jou na plekke in jou gedagtes neem wat jy nie geweet het bestaan nie. Onthou gerus jou liggaams­­­houding en asem­haling as voorbereiding om God se woorde – dalk as fluistering – te ontvang.

Hoe langer ons in die verhaal van die Johannes-evangelie vertoef, hoe meer word ons bewus van hoe fyn Jesus mense rááksien. Soms word iemand aan hom voorgestel (Natanael en Petrus [Joh 1]). Soms is die ontmoeting heel “terloops” (bruilof in Kana [Joh 2], blindgebore man [Joh 9], Maria wat sy voete by ‘n ete in Betanië met nardusolie salf). Sóms lyk dit asof Hy iemand doelbewus inwag (vrou by die put [Joh 4], Tomas die tweede keer toe die dissipels ná Jesus se opstanding bymekaar is [Joh 20:26-29], die dissipels op die strand [Joh 21]). Soms ontmoet Hy hulle op vreem­de tye en plekke (Nikodemus [Joh 3], vrou by die put [Joh 4]). Ander kere lyk dit asof Hy eers wág en hulle geloof toets voordat Hy tot aksie oorgaan (dissipels in die storm [Joh 6], Marta en Maria toe Lasarus sterf [Joh 11], Jesus wat sy dissipels se voete tydens die ete was [Joh 13], Maria Magdalena by die graf [Joh 20]).

Die punt is dat Jesus volgens al hierdie verhale nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om iemand werklik ráák te sien en by hom/haar te vertoef nie, selfs al het Hy geweet hoe onbe­trou­baar en dislojaal mense is (2:24-25; 13:11, 21). Ons kyk vandag en môre ‘n bietjie dieper na twee besondere verhale in die Joh-evangelie, naamlik dié van Jesus se ontmoeting met ‘n vrou by die put van Sigar in Samaria (Joh 4:1-26), en ‘n blindgebore bedelaar (Joh 9). Terwyl die same­lewing se stereotipes oor vroue en siek (dws “sondige”) mense hulle in albei gevalle so verblind het om hierdie twee mense enigsins ráák te sien, doen Jesus die bui­ten­gewoon verrassende ding om albei in ere te herstel… Kom ons kyk weer. Ek LEES slegs die begin van die Samaritaanse vrou se storie in Johannes 4:1-15.

Die verhaal van Jesus en die Samaritaanse vrou vroeg in die Joh-evangelie moes as ‘n skok vir die eerste gehoor gekom het. Vir ‘n samelewing waar eer en skande kernwaardes was, ge­beur daar sommer ‘n hele klomp “verkeerde” goed in hierdie verhaal: Jesus as Joodse man steek die ge­wraak­te grens vanaf Judea na Samaria oor en praat met ‘n vreemde vrou in die publiek. Boonop vra hy haar vir water sonder dat Hy sy eie skepding het, terwyl Jode en Samari­tane nooit uit dieselfde beker sou drink nie! (vgl 4:9, 27). Die feit dat sy alleen op die warmste tyd van die dag gaan water skep en nie soos gebruiklik saam met ander vroue teen die koeler aand nie, mag aandui dat sy sosiaal uitgesluit was. Die uiteinde van die verhaal is dat sy alles los en vir die mense (mans?) van die dorp gaan sê: “Kom kyk…!” (4:28-30, 39-42). Ek LEES dit.

Soos hierdie vrou, het elkeen van ons ‘n storie. Hoe voel jy oor jóú storie? Stel jou voor Jesus kom vandag onaangekondig by jou sit en vra vir jou, Vertel my jou storie, waar begin jy?

Sal ons bid?  Here, my mond hang oop en ek snak na asem. U ontroer my as U so na-aan mense kom, aan mý kom, en so intiem met my praat. Dankie dat ek veilig is by U, met my hele storie en al.  AMEN