Skip to main content
'Kyk (weer) Ek maak alles nuut'RETRAITES

06 | “KYK (WÉÉR), EK MAAK ALLES NUUT” (8 JUNIE 2020)

By Junie 8, 2020Januarie 18th, 2021No Comments

Om deur God ráákgesien te word (Joh 1:43-51; 21:2)

Welkom by die alternatiewe kapél van die Andrew Murray-Sentrum vir Spiritualiteit! Dit is die tweede week van ons ná-Pinkster-retraite vir predikante, lidmate, en veral sorgwerkers, met die tema: Kyk (weer), Ek maak alles nuut (nav Openb 21:5).

Mag ook hierdie week se “saamwees” – net daar waar jy is – ‘n ruimte word waar God jou ontmoet, en jy God nuut rááksien en ráákhoor. Teen hierdie tyd besef ons hoe belangrik dit is om ingestel te wees om bewustelik in God se teenwoordigheid tuis te kom. Ons weet dat ‘n ontspanne liggaam help om dieper waar te neem en fyner te luister, en dat asemhaling ‘n be­langrike rol hierin speel. Neem dus jou tyd, haal ‘n paar keer diep asem, en volg die gang van jou asem deur jou liggaam. Doen dit terwyl jy rustig gaan stap. Óf in ‘n gemaklike posisie sit – met ‘n kersvlam, om jou aan God se lig te herinner, en jou hande in ‘n ontvangende posisie op jou skoot…

Ons het verlede week vlugtig na karakters in die Nuwe Testament gekyk wat getuig dat hulle God se hemel óóp gesien het, en dat alles daarmee vir hulle nuut geword het – al het hulle omstandighede versleg. Ons is herinner aan hoe Johannes op Patmos – te midde van sosio-ekonomiese druk van die Romeinse Ryk – vir Jesus Christus as geslagte lam op die troon van die hemel gesien het (Openb 1:1-9). Ons het gesien hoe Jesus sy dissipels, spesifiek vir Natanael, uitdaag om óóp te wees om deur God se teenwoordigheid verras te word. Die wonder van elkeen van hierdie verhale is dat Jesus hulle éérste raaksien, dat Gód telkens die inisiatief in die ontmoeting neem. Kom ons speel die verhaal van Natanael in Johannes 1:43-51 in stadige beweging terug. Ek LEES dit weer.

Vir Natanael, met al sy vooroordele, begin die gety draai as Jesus hom on­der ‘n vyeboom rááksien (1:48). As Filippus hom van Jesus vertel en sê, “Kom kyk self!” staan Natanael huiwerig nader. En dan ge­beur ‘n aangrypende, eintlik skokkende ding. As Jesus hom sien naderkom, dié man wat nou net nog gevra het of daar iets goeds uit Nasaret kan kom, bevestig Jesus hom met: “Kyk, hy is waar­lik ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.” As Natanael verstom vra, “Waarvandaan ken U my?,” antwoord Jesus dat Hy hom onder die vyeboom gesien het nog vóór Filippus hom geroep het. Dan begin Natanael se oë oopgaan. En Jesus sê: “Wag, Natanael – dís nog niks. Jy sal nóg groter dinge sien…” (1:50-51).

In die eerste-eeuse konteks van die magtige Romeinse Ryk, sien die skrywer van die Joh-evangelie God se hemel oop – in en deur die teenwoordigheid van Jesus. Soos hoofstuk 1:14 getuig: “En die Woord het mens geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou … vol genade en waarheid.” Vir Johannes is sien (om te onderskei, te herken) baie belangrik (vlg 1:29, 32, 35-39a, 46, 50-51): “Julle sal die hemel oop sien en die engele van God wat opstyg en neer­daal op die Seun van die Mens.” Hierdie is ryk simboliese taal kenmerkend van daardie tyd, soortgelyk aan die beeldspraak wat in Openbaring gebruik word om te sê dat Jesus die hemel (dws God se nabyheid) aarde toe gebring het. Vir diegene wat die Hebreeuse geskrifte geken het, sou dié uitdrukking waarskynlik aan Jakob se droom in Gen 28: 12-15 herinner, en sy reaksie daarop in vv 16–17: “Die Here is op hierdie plek … Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”

En onmiddellik hierna doen Jesus sy eerste wonderwerk in Kana – Natanael se tuisdorp (2:1-11; 21:2)! Kan ons ons voorstel hoe verbysterd Natanael moes wees, en hoe diep Jesus se woorde en op­trede sy stereotipes oor hierdie man uit Nasaret moes uitdaag (1:46)?

Neem tyd om versigtig oor hierdie verhaal na te dink. Gebruik jou verbeelding en verplaas jou in Natanael se sandale. Lees dié dramatiese openingstoneel van die Joh-evangelie nog ‘n keer stadig en hardop, en neem dan vir Jesus in jou gedagtes saam met jou na jóú tuisdorp. Waaroor gesels julle?

Sal ons bid?  Here Jesus, help my om te snap dat my verhouding met U telkens daar begin waar Ú my raaksien.  AMEN